2017-07-09 - 4de Sondag na Trinitatis - Horst Müller

Ander vertalings van die preek:


 (Genesis 50:15.21)


 15.Na hulle pa se dood het Josef se broers gevra: "En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?"

16.Daarom het hulle 'n boodskap na homtoe gestuur: "Voor sy dood het u vader beveel:

17. `Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.' Vergeef ons tog nou die misdaad. Ons dien ook die God van u vader." Josef het gehuil oor wat hulle vir hom laat weet het.

18.Daarna het die broers na Josef toe gegaan en voor hom op hulle knieë geval en gesê: "Hier is ons voor u. Ons is u slawe."

19.Maar Josef het hulle geantwoord: "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.

20.Julle wou mykwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

21. Moenie bangwees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het." Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.


Liewe gemeente,


as ek met ouers ´n doopvoorbereidingsgesprek voer, hou ek daarvan om ´n spesifieke vraag te vra: Wat het julle baba nodig om gelukkig te wees? Die eerste twee antwoorde is gewoonlik: Liefde en kos. Dan klere, dak oor die kop, goeie opleiding. Hulle kom agter dat ek nog nie tevrede is nie. Daar is nog ´n ding waarop ek wag, wat hulle nie genoem het nie.


Uiteindelik vra hulle my om te sê wat dit is. “Skoon doekies” is my antwoord. Hulle lag. Natuurlik. Dis mos vanselfsprekend! Miskien, omdat dit so vanselfsprekend is, dink die minste van die ouers daaraan om dit te noem. Maar elke ouer weet hoe ongelukkig ´n baba met vuil doekies kan wees. Alles is daar: Warm klere, genoegmelk, huis, liefde - maar baba hou aan skree. Totdat iemand agter kom: Die doekie, nou net omgeruil, is al weer vuil. Gou skoonmaak, en siedaar - baba lag weer en slaap gou rustig. Hierdie is vir my ´n fantastiese beeld van wat vergifnis beteken. Ek is vergewe - dit beteken: Die vuil doekie is omgeruil. Ek mag weer gemaklik voel, ek mag lewe!


Wat maak ouers met die vuil doeke? Ek stel voor: rig ´n vuil doekie kamer in. My rede: Dan kan julle later vir die tiener wys hoeveel vuil doekies julle moes omruil. Die ouers is glad nie ingenome met my voorstel nie. Hulle vind dit selfs walglik. Die stank van so ´n kamer is ondenkbaar - en elke slag as ´n nuwe vuil doekie daar gebêre word, glip die slegte geure uit sodat die hele huis daarna stink.


Ek ken geen ouers wat so ´n vuil doekie kamer het nie. Die doekies word òf gewas òf weg gesmyt, maar nie gebêre nie!


Ek ken egter verbasend baie mense wat so ´n vuil doekie kamer het as dit by vergifnis kom. Ek vergewe jou. En as jy weer iets verkeerds doen, vergewe ek jou weer. Maar elke slag laat ek jou goed verstaan dat hierdie dinge goed weggebêre is. My vergifnis is gekoppel aan die stank van verwyt vir vorige dinge wat vergewe is.


Die broers van Josef was ook sulke mense.


As jongmans het hulle iets verskrikliks gedoen. Hulle het hulle broer Josef as slaaf verkoop en aan hulle pa vertel dat hy deur wilde diere verskeur is. Dekades lank het hulle daarmee weggekom, het met die vuil doek gelewe en gewoond geraak daaraan. En toe kom die dag toe hulle voor die tweede magtigste man in Egipte staan om vir graan te bedel. En hierdie tweede magtigste man is toe al die tyd hulle broer Josef. Hulle het die ergste gevrees. Maar Josef het hulle vergewe. Hoekom? Josef het besef dat God uit hierdie verskriklike daad van sy broers seën kon laat kom. Daarom kon hy sy broers vergewe.


Maar die broers, wat so lank met hierdie vuil doeke rondgeloop het, kon nie glo dat dit weg is nie. Vir seker het Josef dit gebêre om dit later teen hulle te gebruik.


Toe hulle pa dood is, was hulle vas oortuig: Nou gaan Josef daardie vuil doeke kamer oopmaak en wraak neem.


Weer probeer hulle hulle pad uit lieg: Pa het voor sy dood beveel dat Josef ons moet vergewe. So, direk na die begrafnis van pa is hulle terug by Josef, val op hulle knieë voor hom neer en sê: “Hier is ons voor u. Ons is u slawe” Dis nogal ironies: As jongmanne het hulle Josef as slaaf verkoop omdat hy hulle van ´n droom vertel het waar hulle voor hom neerbuig. Nou doen hulle presies dit.


Hoe reageer Josef? Hy huil! Vir hom was die saak lank al afgehandel. Die vuil doeke was weg. Vir altyd. Nie net dit nie: Dit was mos duidelik hoedat God uit hierdie slegte situasie wonderlike dinge laat gebeur het!

 

En dan lees ons: Josef het hulle jammer gekry en hulle getroos (woordeliks).


Met hierdie optrede word Josef ´n soort van voorloper vir Jesus. Wanneer Jesus aan iemand sê: Jou sondes is vergewe, dan is dit so. Jesus het nie ´n vuil doekie kamer waar die stank elke slag uitkom as jy om vergifnis vra nie.


Omdat baie van ons mense egter so ´n vuil doekie kamer het, vind ons dit moeilik om te glo dat die Here dit nie het nie.


Maar by Jesus geld: Vergifnis beteken - DIE SKULDISNIEMEERDAAR NIE! Dit is weg, vir altyd. Dit is nie weggebêre nie, maar WEG!

 

Die uitdaging vir ons as Christene is dat ons nou leer om ook so te vergewe, soos wat Josef vergewe het, soos wat Christus vergewe.


Ons kan van Josef leer hoe om dit reg te kry.


Sy broers se skuld teenoor hom was geweldig groot. As gevolg van hulle optrede het hy dekades lank as slaaf gelewe, en was hy jarelank in die tronk. Maar Josef het besef: God is groter as die boosheid van my broers en medemense. God is in staat omal hierdie dinge in seën te verander. Daarom kon Josef sy broers se skuld in God se hande plaas - dit vêrder gewe, vergewe.


Dit is die sleutel tot ware vergifnis: Ek gee die onreg wat aan my gedoen is, vir God, omdat ek weet: God is groter as enige boosheid teenoor my. Dis hoekom Josef kon vergewe. Dis hoekom hy nie wraak geneem het nie teen die vrou van Potifar wat hom in die tronk laat stop het. Dis hoekom hy die Egiptenare gewaarsku het oor die hongersnood, al was hy hulle slaaf. Dis hoekom hy nie net sy broers kon vergewe nie, maar hulle selfs gedurende die hongersnood na hom toe laat kom het om daar veilig te lewe. Josef het vergewe!


Vergifnis maak vry. Nie net die een vir wie vergewe word nie, maar veral ook die een wat vergewe. Omdat hy kon vergewe was Josef ´n vry man - selfs toe hy nog ´n slaaf was!


So baie mense kruip deur die lewe, sukkel sukkel, gebuig, beswaard, omdat hulle nie kan of wil vergewe nie.


Doen jouself die guns: Maak daardie vuil doekie kamer leeg! Dit stink in elk geval net die hele huis vol. Daardie kamer kan vir baie beter dinge gebruik word. Maak dit leeg! Vergewe. Gooi weg. Vir altyd.

 

Samevattend:


Hierdie teks wil ons help om van veral twee laste ontslae te raak. Ten eerste die las van my slegte gewete. Die las omdat ek nie kan glo dat God my werklik vergewe het nie. Maak nie saak hoe lank gelede dit was nie, en hoe erg dit was nie, jy mag hoor dat die Here sê: Om Christus se ontwil het ek jou vergewe! Jy mag lewe!


`n Slimmens sal my nou onderbreek en sê: Wag nou: Ons moet darem eers om verskoning vra. My antwoord: Ek praat oor dié dinge waarvoor jy al ´n duisend keer verskoning gevra het, maar nie kan glo dat dit weg is nie. Ek praat oor dié dinge, waar, elke slag as ´n ongeluk jou tref, jy dink: Nou straf die Here my (weer) vir dit. Ek het dit verdien. Die stank van daardie ou doek kom altyd weer op as dinge skeef loop.


Ek nooi jou uit: Moenie weer om verskoning daarvoor vra nie, maar hoor wat Jesus sê: Ek HET JOU VERGEWE! Dis al lankal weg! Heeltemal. Staan op. Lewe!


Ek nooi jou uit om nou stil te word. Noem die vuil doeke by naam wat jy saam met jou dra, en hoor, hoe die Here sê: Dis vergewe!


Die tweede las is die dinge wat ek tot dusvêr nie kon vergewe nie. Hoe het hierdie dinge my lewe swaar gemaak, verhoed dat ek kon opstaan. Hoeveel ander dinge het skeef geloop as gevolg van my bitterheid, as gevolg van kwade gevoelens wat my krag opgevreet het?

 

Die Here nooi jou vandag uit om te laat los. God is groter as dit wat ander aan jou gedoen het! God kan die mees gemene optrede in seën verander. Laat los. Vergewe. Maak jouself oop vir dit wat die Here wil doen, vir die seën wat hy beplan, ten spyte van alle onreg! Laat hom toe om sy seën te laat vloei waar daar tot dusvêr net bitter was.


Ek nooi jou uit om vir ´n paar oomblikke stil te word. Noem die dinge by naam wat jy nie kon vergewe nie. Sê dan: Ek vergewe! Ek vergewe (naam) vir wat hy/sy aan my gedoen het. Noem die daad by naam, en die persoon wat dit gedoen het. Sê: Ek vergewe! God is groter as hierdie onreg. Ek mag lewe, en ek mag ´n seën vir ander wees - ten spyte van alles! Ek is vry!


Amen!


Horst Müller, Biskop, ELKSA(N-T) Email: Diese E-Mail-Adresse ist vor Spambots geschützt! Zur Anzeige muss JavaScript eingeschaltet sein!