( Preek Gen 50,15-21 ) [ English Translation ] [ Deutsch Predigt ] [ Afkondegings (Duits)463.18 KB ]
15 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het!
16 Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde:
17 So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.
18 En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.
19 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?
20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.
21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.
Liewe Gemeente
Julle ken die storie van Josef en sy broers. Tog wil ek die een en ander gebeure daaruit vertel, wat Ek glo belangrik is om die teks, die afsluiting van die storie, te verstaan.
Die storie begin met Jakob wat Josef voortrek – 'n buitengewoon mooi kleed, net ligte werk, en duidelike voordele bo sy ouer broers.
Josef het dan drome – en hy vertel met genoegdoening hoe sy hele familie voor hom neerbuig. Ek glo dit wys dat hy, deur die voortrekkery van sy vader, 'n verwaande vent geword het.
Dan verkoop sy broers hom na Egipte as slaaf – en daar word hy begunstig, vals beskuldig, kom in die gevangenis, verduidelik die drome van die Farao, en word dan eerste minister.
Die voorspelde droogte kom, en die broers kom Egipte toe om koring te koop. Josef trakteer hulle, stuur hulle terug met hulle geld, arresteer hulle, verwag dat hulle sy broer Benjamin saambring, en toe hulle terugkom wys hy hulle wie hy is – en, by die geleentheid, waar hulle bang is vir sy wraak, sê hy vir hulle: 5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.
Ten spyte daarvan dat hy hulle by die geleentheid vergewe het, is die broers nog onrustig. Hulle gewete pla hulle nog altyd – soos dit hulle telkens gepla het in die verloop van die storie: By elke terugslag het hulle gedink: Is dit nou ons straf omdat ons Josef verkoop het en ons vader laat glo het hy is dood.
En nou, waar hulle vader gesterf het, vlam die angs weer op: Sal Josef nou wraak neem?
Hulle probeer hulle beste al die gesagsfigure wat hulle kan kry op te lys om Josef te oortuig om hulle geen kwaad aan te doen nie: Ons vader het gesê..., die knegte van jou God. Hulle is so bang, dat hulle eers boodskappers stuur, en eers daarna self kom.
Eers waar hulle self voor Josef is, angsbevange, kom hulle eie skuldbelydenis: al die kwaad wat ons gedoen het.
Josef vergewe: Hy neem nie die rol van regter in nie. Hy wys op die goeie wat God deur die kwade laat gebeur het. En hy verplig homself om goed te doen aan sy broers en hulle families.
Wat leer ons?
Ten eerste: Hoewel daar reeds vergifnis was – van Josef, van Jakob, van God – het die broers dit nie geglo nie, nie kon glo nie – totdat hulle nie hulle skuld self ingesien en bely het nie.
Tot dan was hulle nog vol van angs. Hulle kon jare lank nie werklik leef nie – omdat hulle bang was. Hulle eie skuldbewussyn het hulle geknelter.
Waar is dit so in jou lewe, dat skuld, wat jy nie bely het nie, jou nog vasvang, jou betrekkinge en verhoudings nog moeilik maak? Al weet jy miskien, al het die ander persoon miskien al gesê dat hulle jou niks nadra nie, is daar miskien nog altyd iets wat jou pla.
Dis moeilik vir ons om skuld te bely. Dit het die broers dekades gevat. Vir my is dit ook nie maklik nie. Maar: Waar iets my hinder om die verhouding werklik te verdiep, om die ander persoon te vertrou, is dit belangrik dat ek my trots en my selfbewussyn oorwin, en my skuld bely, die dinge wat in die ondergrond is en rondwoel na bo bring, en daaroor praat. Baiekeer is dit so dat die ander persoon lankal daarvan vergeet het – en die vergifnis vinnig kom. En dan is die lug weer oop en kan die verhouding groei.
Ek glo in ons land ly ons ook aan hierdie probleem. Ons het nie werklik die skuld, die letsels, die kwaadwees, die haat van die verlede oorkom nie. Daar is nog baie van ons mense wat hulle skuldgevoelens onderdruk en platdruk en oorspeel met verontwaardiging oor wat nou gebeur, en so probeer om hulself te regverdig. Natuurlik is korrupsie en ampsmisbruik nie goed te praat nie. Maar ons, ons blankes, klink baiekeer asof ons nie besef dat daar ook vroeër probleme was nie, dat onreg diep letsels gelaat het, en dat vergifnis nodig is nie. Ek hoop dat ons sal kan, meer en meer, daarnatoe kom dat ook die skuld van die verlede bely word, en dat uit vergifnis nuwe krag en hoop vir die toekoms kan vloei.
Ten tweede: Josef wys weg van die kwaad wat die broers gedoen het, na die goeie, wat God daardeur bewerkstellig het.
Dit is tog verstommend, verbasend: God gebruik die sonde, die kwaad wat die broers gedoen het, om 'n wonderlik goeie werk te doen. Weer en weer sien ons dit: God kan selfs die grootste euwel gebruik, om daaruit goed te laat groei. Ons sien dit in die kruis van Christus: Daar, waar die magte van die bose God die grootste neerlaag wou aandoen, het God die grootste goeie werk volbring.
Dietrich Bonhoeffer het geskryf:
Ek glo dat God uit alles, selfs uit die slegteste, goeie dinge kan, en wil, laat ontstaan. Hiervoor het hy mense nodig wat hulle alles ten goede laat dien. In so 'n geloof moet alle vrees die toekoms oorkom wees. Ek glo dat selfs ons foute en falings nie verniet is nie, en dat dit vir God nie meer moeilik is om met hulle te werk nie as met ons veronderstelde goeie dade.
Dit beteken natuurlik nie, dat ons nou maar so sleg as moontlik mag wees nie – omdat God tog goed daaruit kan laat word nie. Nee, God wil dat ons aan sy werk aandeel neem.
En dit bring my tot die derde punt:
Josef het volwasse geword. Hy het verander. Hy was 'n verwaande vent, wat sy mooi kleed en sy groot drome ten skoue gedra en vertel het – hy het alles op homself betrek.
Maar nou het y 'n baie groter visie. Hy sien nie homself in die middelpunt nie, maar dit wat God wil doen. God wil mense red – 'n groot volk aan die lewe hou. Of dit nou die Israeliete is, of die Egiptenaars: God wil red. God wil aan die lewe hou en versorg. En Josef maak homself deel van die reddingswil van God: Ek sal vir julle sorg, en vir julle kleintjies.
Ook vandag nog wil God red, en ons mag deel wees van sy groot werk. Wat 'n eer! Wat 'n vreugde!
Waar jou skuld nog in jou woel: Bely dit, sodat jy vry mag wees. Jy mag weet dat God selfs deur jou falings en misstappe goed kan laat gebeur – jy hoef nie terug te kyk en alles noukeurig beoordeel nie. Kyk na voor, word deel van God se groot werk van redding.