( Preek Rut 1:1-19a ) [ German Sermon ] [ Afkondegings (German)681.76 KB ]
Mense en hulle lewensgeskiedenis is altyd uniek.
Sulke besondere en unieke lewensverhale kry ons in die wêreld, in die Bybel en in die Joodse geloof en in die Christelike geloof. Sommiges verstaan ons dadelik en ander is vir ons vreemd.
Hulle sal kom van die ooste en van die weste en van die noorde en uit die suide om aan te sit by die fees van God se nuwe ryk. (Luk 13:29)
God het ‘n visie vir sy ryk, dat almal sal aansit by sy tafel. En hierdie visie laat hom nie los nie. Die lig wat deur Jesus Christus verskyn het, skyn nie net op sommige mense nie, maar op die hele wêreld.
En dit is Jesus self wat hierdie visie vergestalt. Ons lees van sy stamboom in Mat 1. Daar was drie maal veertien generasies van Abraham tot by Christus. ‘n Groot verskeidenheid mense en lewensstyle. Ons lees van vier vroue wat in Jesus se stamboom voorkom: Tamar, Ragab, Rut en Batseba. Al vier het geen reguit lewe gehad nie. Hulle het probleme met mans en met die liefde gehad. En al vier was buitelanders. Ek glo nie aan toeval in die Bybel nie. Ek glo alles is deel van God se plan.
Om al die grense wat ons in ons koppe trek in oënskou te hou en om ons denkwyse verander; of dit nou vrouens of buitelanders of geen gewone familieverhoudings is of nie. Dit is God se plan.
Hulle sal kom van die ooste en van die weste en van die noorde en uit die suide om aan te sit by die fees van God se nuwe ryk.
So is dit in God se ryk.
Vandag gaan die preek oor een van die vroue wat in Jesus se stamboom voorkom. Sy sou ook later die oumagroottjie van koning Dawid word.
Rut 1:1-19a.
Liewe gemeente, dit is n verhaal uit die Ou Testament wat ons goed ken. Maar hierdie vehaal is ook baie anders. Ons lees van verskillende plekke en name en ‘n lewensverhaal wat ‘n mens nie kan verstaan nie, wat ons verwar. Dit is die lewensgeskiedenis van drie vroue: Naomi, Orpa en Rut. Dit begin by die lewensgeskiedenis van Naomi en Elimeleg. Hulle is ‘n egpaar wat in Bethlehem gewoon het met hulle twee seuns. Daar was hongersnood in die gebied. Die familie het toe besluit om Bethlehem te verlaat en te trek na ‘n gebied waar daar genoeg was om te eet. Ek kan net dink watter gesprekke hierdie besluit vooraf moes gegaan het. Want niemand verlaat sy vaderland sommer net so nie. Selfs nie onder sulke moeilike omstandighede nie. Daardie tyd nie, en vandag ook nie. Hulle het getrek na ‘n gebied waar gewone mense eintlik nie heen gaan nie. Na die land van Moab. In die Ou Testament was die mense dikwels gemaan teen die Moabiters en veral teen gemengde huwelike.
Maar skynbaar het Naomi en haar mense tuis gevoel onder die Moabiters en hulle het langer daar gebly. Die twee seuns het met Moabitiese vrouens getrou. Elimeleg is daar oorlede. Daarna het Naomi se twee seuns ook gesterf. Net die drie vrouens het oorgebly: Naomi en haar twee skoondogters Orpa en Rut. Wat hier in ‘n paar sinne vertel word is eintlik ‘n yslike emosionele en ekonomiese katastrofe. Want daardie tyd was dit gevaarlik vir ‘n vrou om alleen te wees. Sy was daarop aangewese om deur ‘n man of ‘n seun versorg te word.
Naomi het besluit om na Bethlehem terug te gaan waar daar intussen geen hongersnood meer was nie.
Die twee skoondogters wou saamgaan. Maar toe hulle halfpad ws het Naomi vir hulle gesê om om te draai. ‘Gaan terug na julle eie mense. Soek daar vir julle mans om mee te trou. Met my het julle geen toekoms nie.’
Rut en Orpa moes besluit. Niemand kan so iets namens jou besluit nie. Watter pad neem ek? Hierdie een of daardie een? Dit is tog my lewe. En of dit reg of verkeerd is weet mens eers later. Net ek is op die ou end verantwoordelik vir my besluit.
Na ‘n lang geredekawel het die skoondogter Orpa met veel trane van die ander twee afskeid geneem.
Rut was adamant. Sy gaan saam. Sy sê die sin wat in die geskiedenis beroemd geword het: ”Waar u gaan sal ek ook gaan, waar u bly sal ek bly. U volk is my volk en u God is my God…. Net die dood sal u en my skei.”
Dit is ’n vers wat baie huwelikspaartjies kies as trouvers. Dit is ook baie waar. Dit is die besluit en ook die belofte om jouself geheel en al aan iemand anders te verbind. Ek vertel dan vir die voornemende egpaar dat dit eintlik ‘n belofte is wat ‘n skoondogter aan haar skoonma gemaak het nadat albei se eggenotes gesterwe het. Dan klink dit nie meer so romanties nie.
Tog het die sin ‘n baie dieper betekenis.
Dit is twee mense wat in nood verkeer wat besluit om saam verhoudings te trotseer en grense oor te steek en om mekaar te ondersteun.
Dit is eintlik ‘n groot gebaar tussen twee mense.
Hierdie verhaal doen ook weg met ‘n hele paar vooroordele waarin ons in ons gemaksone is. Soos dat mans sterk is en vrouens hulpeloos. En dat die allerbelangrikste oorweging is aan watter volk ‘n mens behoort en tot watter godsdiens. Rut en Naomi bewys die teendeel. Naomi het Rut nie gedwing om haar geloof aan te neem nie. Die band tussen hulle wat so sterk was is die vertroue en sekerheid dat hulle hulle op mekaar kon verlaat. Dit is juis daar waar God ‘n rol speel. Ek glo dat daar waar mense sonder voorwaarde op mekaar vertrou, daar is God naby. Waar mense nie hulle eie voordeel, maar eerder die nood van ander voorop stel, daar kan God baie bereik.
God is magtiger as wat ons dink.
Die hoofman van Kapernaum waarvan ons in die evangelielesing gehoor het, was seker nie ‘n vrome Christen nie. Wat hy wel verstaan het is dat Jesus nie net daar is vir die wat Hom nog altyd gevolg het nie. Hy help oor nasionale grense en geloofsgrense heen. So gaan dit ook met Rut. Sy oorskrei alle kleingeestigheid van die Israeliete en ons eie kleingeestighede. So is dit en so was dit nog altyd en so is God nog van altyd af. ‘n Belangrike figuur en dit nogal ‘n vrou word opgeneem in die stamboom van Jesus.
Hy bring die lig na alle volke. Dit is die lig wat ons in die Epifaniastyd vier. Die lig bring nou reeds mense saam om sy tafel. En so is God se visie reeds waar .
Hulle sal kom van die ooste en van die weste en van die noorde en uit die suide om aan te sit by die fees van God se nuwe ryk.
As ons nou die nagmaal met mekaar vier dan kry ons ‘n voorsmakie van die koningkryk van God. Wanneer die grense wat in ons koppe is stukkend breek en ons die lewensgeskiedenis van ander aanvaar al is dit nie ons s’n nie. As ons bereid is om ongewone paaie te verken, en ons onsself oopmaak vir ‘n nuwe onbekende wêreld en vol vertroue daarop ingaan, dan weet ons dat God ‘n plan het en dat niks toevallig gebeur nie.
Amen