( Sermon Mt 26,17-30 ) [ Duitse Preek ] [ Afkondegings (Duits)217.02 KB ]
Matt 26:17-20
Ons sit hier almal om die tafel. Die kamer is mooi reggemaak vir ons. Die tafel is gedek. Die ete is voorberei. Uiteindelik kan ons rustig feesvier. Jesus is hier en die twaalf, en ons vrouens. Net die beste vriende is hier bymekaar. Daar is wyn en brood. Vleis en kruie. Die kerse brand vrolik. Ons vier die fees van die bevryding. Die bevryding uit die onderdrukking. Daardie tyd in Egipte was ons voorvaders slawe gewees.
God het hulle met sy magtige hand bevry. Hulle het deur die See getrek. Hulle het van die vervolgers af weggekom. En nou? Nou wemel die stad van Romeinse soldate. Die mense ly onder die belasting en korrupsie van alle kante. Die tye is sleg. Almal moet hulle gordels stywer vastrek. Die rykes word ryker en die armes word armer. Oorloë woed oral: alles net om die leiers nog verder te verryk. Van geregtigheid is daar geen sprake nie.
Ja, God, bevryding is nodig. Nou moet God weer met sy magtige hand wys wie die Here is. Weer ‘n keer moet hy sy geregtigheid laat seëvier. Veral oor die Romeine.....
Jesus het gepraat van geregtigheid en van die liefde van God. Hy het blindes weer laat sien en dowes weer laat hoor. Sy boodskap is bevrydend. Daarom het ek hom gevolg. Ek het destyds my waterkruik net daar by die fontein gelos en Hom gevolg. “Kom en volg my”, het Hy gesê. Sy woorde het my beweeg. Ek kan dit nie beskryf nie en ek kan dit nie verstaan nie. Op een of ander manier het Hy in my hoop opgewek. Hoop op iets nuuts; iets onbeskryflik. Ek het Hom gevolg met ‘n brandende hart. Net soos die ander mense wat Hom reeds lank volg.
En nou vier ons die fees van die bevryding. Maar om ons is geen vryheid nie. Ons moes in die geheim hierdie lokaal vind. Oral is spioene. Hulle soek na Jesus. Hulle is bang. Hulle is bang juis daarvoor waarop ons hoop gevestig is, nl. dat die ware bevryding nou sal kom. Die omverwerping van waardes. Hier is spanning in die lug. Iets wat ek nie verstaan nie.
Dikwels verstaan ek Jesus nie. In die laaste tyd praat Hy so baie van lyding en van die dood. Van Sy dood. Ek verstaan dit nie. Ek druk liewer my ore toe wanneer Hy weer daaroor praat. Met dood en lyding wil ek niks te doen hê nie. Ons volg Hom tog juis sodat daar ‘n einde kan kom aan lyding en siekte. Hy het tog siekes genees en dooies opgewek.
Matt 26:21-24
Nou begin die feetelikheid uiteindelik. Vir die eerste keer vier ons die Paasfees hier in die hoofstad. Hier in Jerusalem. Hier sal die nuwe bevryding begin. ‘n Nuwe wêreld sonder onderdrukking; is dit regtig nou so ver? Gaan Jesus regtig vandag wys hoe magtig Hy werklik is? Die spanning laai op. Ons is almal ongeduldig. Nou kort tevore het Hy gepraat van die eindtyd. Hy het gepraat van die koms van die Seun van die Mens. En dat ons waaksaam moet wees.
En toe skielik sê Hy: ”Een van julle wat saam met my eet, gaan my verraai.” My kos het in my keel vasgesteek. Wat op aarde is dit? Een van ons gaan Hom verraai? Nie een van ons sal dit tog ooit doen nie. In elk geval nie opsetlik nie. Tog nooit as die nood nie druk nie. Miskien as hy in angs verkeer? Maar tog - in die laaste tyd tree Hy soms vreemd op. Hy praat meer van Sy eie dood as van die bevryding van die volk. Ek verstaan dit nie. Vroeër het Hy oor ander dinge gepraat. Of miskien is my verstand te klein om alles te begryp. Hy het vir my ‘n vreemdeling geword. Is ek nog bereid om alles vir Hom te doen? Of sal ek Hom kan verraai?
Is dit dalk ek van wie Hy praat? Almal vra hulself af: Is dit ek? Vir almal hier om die tafel is dit seker moontlik. Jesus se vriende is nie die sterkes en die helde nie. Ons is almal doodgewone mense. Almal. Ons ken almal verraad. Daar agter sit Jakobus. Toe hy ‘n jong man was, was hy vol drome en hoop op ‘n beter wêreld. Hy het idees gehad vir ‘n beter samelewing sonder geweld. Mettertyd het sy drome vervaag. Die stryd om aan die lewe te bly en die vrese oor sy familie het gemaak dat hy sy toekomsvisie nie meer het nie. En toe het hy Jesus ontmoet. En skielik was al sy drome weer daar. Toe Jesus vertel het van die koninkryk van God het hy daarin weer sy drome gevind. En toe het hy Jesus gevolg. Tot hier toe. En nou? Gaan hy weer sy drome verloor?
Of daar is Levi. Hy was ‘n tollenaar. Hy het geleef van bedrog en verraad. Dit was vir hom niks snaaks om ander te bedrieg nie. Hy het van almal geld gevat en het dit dan in sy eie sak gesteek. En toe kom Jesus. Hy het Levi met ander oë gesien. Levi het sy lewe omgekeer en Jesus gevolg. Hoe sal hy reageer as die dinge nie meer dieselfde is nie? Gaan hy nie dalk weer na sy ou lewe terugkeer nie?
Daar is Maria van Magdala. Hulle sê sy was ‘n hoer gewees. Ek weet nie of dit waar is nie. Sy het nog nooit daarvan gepraat nie. Sy het net gesê dat sy, vóór sy Jesus ontmoet het, haarself verraai het. Sy het dinge gedoen wat sy nie wou nie. Sy het haarself verkoop en haar siel verloor. Sy weet ook wat verraad is. Sal sy by Jesus staan, kom wat wil?
Almal vra hulleself af: Is dit ek? dit kan enigeen wees. Ons is geen helde nie. Ek nie en jy ook nie.
Matt 26:25-30
Ons bekyk mekaar. Jesus kyk na ons. Dit is asof hy tot in ons binneste kan sien. Asof hy ons gedagtes kan lees; ons swakplekke. Hy weet van ons liggelowigheid. Daar is nie een van ons wat hard en duidelik kan sê: “Nee, Here ek kan u nooit verraai nie.” Jesus kyk na ons. In die stilligheid dink ek: “Here, wees my genadig.” En dan is dit Judas wat die vraag stel. Jesus weet dit en Judas weet dit ook. Maar hy bly daar; hy mag daar bly. Ten spyte daarvan. ‘n Groot verligting spoel oor my. Maar sou ek dit nie ook kon doen nie?
Dan neem Jesus die brood, breek dit en gee aan elkeen van ons ‘n stuk. “Neem hierdie brood, dit is my liggaam.” Ek besef dat hier iets ongeloofliks gebeur. Jesus gee iets wat waarlik van homself is. Sy sterkte in ruil vir my swakheid. Sy liefde vir my haat. Sy hoop vir my twyfel. ‘n Energie, soos nog nooit tevore nie, stroom deur die kamer. Ons hoort bymekaar; baie eng by mekaar. Nie omdat ons sonder foute is nie, of omdat ons mekaar so goed verstaan nie. Nee dit is omdat Jesus ons aan mekaar bind. “My bloed wat die verbond bevestig, sal vloei sodat God baie mense se sondes sal kan vergewe.” Dit is wat Hy sê. Hierdie verbond sal sterk wees. Niks kan my van sy liefde skei nie. Nie eers met my twyfel en my vrese kan ek my van hom losmaak nie. Nie eers die dood nie. Ook nie verraad nie. Ons hoort bymekaar. Jesus stuur ons nie weg nie. Die brood en die wyn het my totaal verander. Ek voel nuwe krag in my vir ‘n nuwe begin. Ja, ek kan weer van voor af begin; dit is moontlik. Hier en nou.
Amen