( Preek Lukas 15,1 10. ) [ English Translation ] [ Deutsch Predigt ] [ Afkondegings (Duits)390.31 KB ]
DIE GELYKENIS VAN DIE VERLORE SKAAP
1 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.
2 Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”
3 Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan watweg is, totdat hy hom kry.
5 En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6 As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’
7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
DIE GELYKENIS VAN DIE VERLORE MUNTSTUK
8 “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’
10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Liewe Gemeente!
Hoe reageer u as u iets belangriks verloor?
Toe ek my klein beursie en dagboek verloor het, soek en soek ek dit. Ek het byna my kredietkaart gekanselleer, en het beplan om 'n bestuurslisensie en ID-kaart aan te vra, en .... ek het gesoek en gehoop, maar uiteindelik het ek opgee. Toe, skielik, was dit daar. Die helfte van my lewe was terug. Ek was baie bly.
My familie het eens 'n tante gehad wat na die tweedewêreldoorlog vyftien jaar in konsentrasiekampe in Rusland was. Hulle het gewag en gewag. Hulle het briewe aan die rooi kruis, die sendings, die ambassades geskryf ... Geen antwoord nie. Geen lewensteken nie. Soveel mense is dood. Hulle het amper gevoel hulle moes dink my tante is een van die dooies. Hulle was op die punt om hoop te verloor. Maar toe klop sy een Oukersaand aan die deur. Wat 'n vreugde! Dit was die grootste Kersgeskenk.
Dit is die vreugde wat God ervaar wanneer iemand na hom terugkeer. Wanneer 'n mens wat vervreemd was, verlore is -'n sondaar na God terugkeer, vra God nie: “Waar was jy? Hoekom is jy so vuil?” nie. Hy sê nie: “Maak eers skoon, en kom dan eers.” nie. Nee, hy is baie bly en hy verwelkom jou met ope arms.
Maar -God wag nie. Hy gaan uit en soek. Niemand draai tot God voordat God hom gevind het nie. As u verlore voel, vêr van God af -hou God u eintlik dop. Hy is reg agter jou en probeer jou oortuig om om te draai. Hy volg sy skape deur dik en dun. Geen dorings, geen klippe, geen valleie nie, niks is te moeilik nie. Omdat hy so lief is vir sy skape. Hy soek deur elke kloof, klim deur steil slote, soek deur netelige kolle -waar is die skape vir wie ek omgee?
Die vrou wat die muntstuk soek, keer die hele huis om. Sy maak al die stof skoon en kyk deur al die vuil en as. Sy pak al die laaie uit, kyk deur die bokse. Sy kyk selfs in die potte in die kombuis. Sy word self vuil in haar soektog om die muntstuk te vind.
God skroom nie weg van lyding of moegheid, van werk of vuilheid om jou te vind nie. Omdat hy lief is vir jou.
God gee nie moed op nie. Hy sê nie: Hierdie skaap hardloop altyd weg nie. Laat dit gaan en doen wat hy wil. Ek is moeg daarvoor om agter die skaap aan te hardloop.
Ons raak wel moeg. Ons sê: Dit is hul keuse, hulle moet met die gevolge saamleef. Ek het te veel om te doen agter mense aan wat nie omgee vir kerk of God nie aan te loop soek. Ons probeer raad gee, maar dan, as
mense nie wil luister nie, sê ons: ek gee op. Laat hulle doen soos hulle wil. Dit is in elk geval moeilike karakters. Ons mense gee soms moed op.
God gee nooit moed op nie. God verloor nooit hoop of hou op om lief te hê nie. Wat jy ook al gedoen het, jy mag weet: God soek jou steeds. Jy is kosbaar vir hom. En wanneer God jou vind en jou weer in sy kraal bring, vier hy dit. Hy is verheug.
In die twee gelykenisse wat ons gehoor het, eindig die verhaal altyd met 'n gemeenskap wat saamgeroep is om fees te vier
God is op soek na mense wat hul pad verloor het, wat hul verbintenis met die familie van God verloor het. Is ons deel van sy pogings om diegene wat afgedwaal het, te soek, te soek, terug te bring?
Hoe reageer ons op mense wat weer in God se kudde kom? Vier ons saam met die engele? Of is ons soos die Fariseërs wat probeer het om mense uit te hou? Sê, of dink ons miskien: Jy is vuil. Jy pas nie by ons nie. Jy is nie ordentlik soos ons nie.
Is ons dienste sodanig dat mense daarin die welkom van God voel, maak nie saak waar hulle vandaan kom nie, of hulle Luthers of agnosties of charismaties is, of wat ook al: Is ons dienste 'n teken van God se vreugde en welkom?
God wil ons gebruik om mense na hom terug te bring. Hy wil hê dat sy liefde in ons lewens moet skyn. Hy wil hê dat ons onder sy sorg moet kom.
Bid vir mense wat van God af weg is. Wys hulle God se liefde. Nooi hulle om terug te kom. En miskien kan jy help om na die verlorenes te soek.
Maak kontak met iemand en vra: "Hoe gaan dit met jou?" Nie om hulle te beskuldig nie, maar om te kyk of hulle ondersteuning nodig het.
In jou omgewing -is daar mense wat die Evangelie van God se liefde nodig het? Moet ons as gemeente meer uitreik na diegene wat rondom ons is -ons bure, ons medemense? Wat kan ons doen om agente van die God wat soek te word?
Wat beteken dit om om te draai en na God terug te kom?
Dit beteken om te weet dat God die een is van wie my lewe kom, en om hom te vertrou.
Ons is soms geneig om van ander bronne lewe te verwag: populariteit, geld, mag.
Om tot God te kom beteken om vertroue op daardie ander dinge te laatvaar.
Ons moet dit oefen: om op God te vertrou, en nie te veel oor die ander dinge bekommerd te wees nie.
Mag die vrede van God by julle wees.