( Preek 2. Korinthiërs 9 ) [ Duitse Teks ] [ Afkondegings - Duits502.68 KB ]
God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.
9 Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”
10 God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer.
11 Hy maak julle altyd in alles ryk genoegom by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word,
12 want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee.
13 Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander.
14 Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was.
15 Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.
Samevatting van die Preek.
Golwe van Dankbaarheid
In twee hoofstukke (8 en 9) skrywe Paulus oor geldsake - maar nie soos die Ou Testament met wette en riglyne (10%, eerste vrugte ens). Hy praat oor die grondslag, die houding wat Christene teenoor besittings en barmhartigheid behoort te hê. Dis die moeite wêrd om hierdie hoofstukke rustig deur te lees!
Vir vandag se preek konsentreer ek op die 5 G´s van die golwe van dankbaarheid, wat veral uit 9: 8-15 sigbaar word. Hulle is: Genade, Genoeg, Gewillig, Gesamentlik en Godslof
1. Genade.
Alles, alles is Genade, onverdiende guns alleen. In ons tyd van “we demand” en “dit is my reg” is dit belangrik om ´n slag stil te word en te besef dat agter alles wat ek besit, wat ek eet en aantrek, genade is. Boere weet hoe afhanklik hulle van die Heer se genade is. Ons stadsmense moet daaraan herinner word. Ons dink dis die vrug van ons handewerk, van ons swoeg en sweet - maar Paulus herinner ons daaraan dat dit eintlik deur die Genade van die Here is, dat ons dit het. Paulus was nie ryk nie, maar het van die hand in die mond geleef, en soms weke, ja maandelank in die tronk gesit terwille van sy navolging van Christus. Juis in daardie situasie het hy besef hoedat die genade van die Here hom altyd deur gedra het.
2. Genoeg.
Dis in ons wese om nooit genoeg te kry nie. Die korrupte politici en beamptes, wat, ten spyte van goeie salarisse nie skroom om diep in staatskoffers te grou nie, is maar net een voorbeeld hiervan.
“Ek sou kon doen met ´n miljoen” sing Lukas Maree. Maar ´n miljoen is ook nie genoeg nie.
Ons sien dit al by kleuters - waar hulle eers tevrede was met ´n lekkertjie kom daar ´n stadium waar hulle met altwee hande in ´n bak lekkers sal ingryp, die mond vol stop - nog, nog, nog!
Paulus vestig ons ook op dit wat ons het, nie wat ons nog wil hê nie, en weer uit eie ondervinding sê hy: Dit is genoeg. Hy gaan selfs vêrder om te sê: Ryklik! Hierdie is ´n kern van dankbaarheid: Om te weet dat ek genoeg het.
3. Gewillig (om te deel).
Dit is waaroor hoofstukke 8 en 9 gaan. Paulus kollekteer vir die verarmde gemeente in Jerusalem, en in ´n poging om die geld bymekaar te maak, skryf hy aan al die gemeentes in sy bediening. Hierdie is die oudste solidariteitsfonds.
In die proses word hy verras deur dit wat hy by die gemeentes in Masedonië sien (Filippense, Thessalonika ens). Hulle is nie juis baie ryk nie, maar dit wat hulle gee oortref al sy verwagtinge. Hulle is bereid om te gee vêr bo hulle spaargeld. As hy nou aan die Korinte skryf, is hy bekommerd. Baie
van hulle is welvarend, en op sy reise het hy soms vertel van hierdie gegoede mense, en van sy hoop dat hulle ´n aansienlike bydrae gaan gee. Maar aan die mense in Korint sê hy dan: Maak seker dat julle gawes nie ´n offerande van suinigheid sal wees nie!
Dit is ook ´n baie menslike tendens: Hoe meer ek het, de te moeiliker is dit om te deel. Dit het met die “genoeg” te doen, en omdat ek vergeet dat alles as genadegawe gegee is, al moes ek daarvoor werk. Hier is egter ´n sleutelaspek in die ontwikkeling van dankbaarheid: Gewilligheid om te deel
ontlok ´n vreugde wat nie te doen het met dit wat ek het nie, maar met die wete: Ek kan deel!
4. Gesamentlik optree.
Die nood in ons tyd en wêreld is so groot - ek kan nie ´n verskil maak nie. Ten tye van Paulus se skrywe was daar ´n hongersnood in die gebied van Jerusalem op grond van aanhoudende droogte. Die klein gemeentes van die vroeë kerk sou daaraan geen verskil kon maak nie.
Wat nou gebeur is baie belangrik: Saam besluit hulle om tenminste één groep te help: Die klein gemeente in Jerusalem, hulle moedergemeente. Ek is dankbaar vir baie van ons gemeentes wat ook projekte identifiseer waar hulle sê: Saam kan ons ´n verskil maak. Dis dan ook die doel van NELCSA se solidariteitsfonds: Om saam te span om gemeentes te help wat sukkel.
Natuurlik kan ek ook op my eie iemand help - maar dit is belangrik dat ons as Christene ook kragte saamspan, sodat al die “klein bietjies” êrens ´n groot verskil kan maak.
5. Godslof
Dis nou waar die golf van dankbaarheid dan onstaan: terwyl ons gee, loof ons die Here. Daar waar die hulp aankom, loof die ontvangers die Here. En as ons dit doen met die houding: ons doen dit omdat ons die genade en liefde van Christus beleef het, word hierdie golf ook ´n Evangelie-golf: Die Liefde van die Here, die genade van Christus word sigbaar in dit wat ons doen.
Dit is dan ook die begin van die volgende golf van dankbaarheid: Dit wat ons gee, help die ontvangers om te besef dat die genade van die Here hulle begelei. Hulle kom onder die besef van “genoeg”, al is dit nie oorvloed nie. Dit lei by hulle na ´n gewilligheid om te deel, en, soos Paulus sê (8,14)- soms help julle hulle, en dan weer andersom. Hierdie proses is nie outomaties nie - ons moet ons altyd weer aan die 5 G´s laat herinner, anders is ons baie gou weer by ´n situasie waar ons vergaar en nooit genoeg kry nie, waar ons nie omgee vir ander, of dink: Ek kan in elk geval nie ´n verskil maak nie.
Dis dae soos vandag wat ons dan help om weer te bely:
Dis Genade, ek het Genoeg, ek is Gewilligom te deel. Gesamentlik kan ons ´n verskil maak. Aan God al die eer!
Amen
Horst Müller, Biskop NELCSA Epos: