2022-02-27 - Laaste Sondag voor die passie tyd - Estomihi - Bischof Horst Müller

( Markus 8v31-38 ) - [ Duits ] - [ Akündigungen414.55 KB ]


31. Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan.

32. Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe.

33. Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. "Moenie in my pad staan nie, Satan," het Hy gesê, "want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê."

34. Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

35. want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.

36. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?

37. Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe?

38. Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader."


Liewe gemeente,

“Dit is Putin se oorlog” - hierdie woorde hoor ́n mens tans uit menige wêreldleier se mond. Die bedoeling is dat Rusland se inval in die Ukraine nie die wens van die Russiese of Ukrainse mense is nie, maar die verwronge magsbeheptheid van die Russiese president. Hy het besluit om die geskiedenis en aardrykskunde so te interpreteer dat hy sy waansinnigheid daarmee kan regverdig.

Maar dis nie net wêreldleiers wat sulke waansinnighede regkry nie.

Die woorde van Jesus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself

verloën, sy kruis opneem en My volg” is in die geskiedenis van die kerk net so waansinnig geïnterpreteer om oorlog te voer en mag uit te brei. In 1095 het die destydse Pous Urbanus II die Christene in Europa opgeroep om die “kruis op te neem” en Jerusalem van die Mohammedane te bevry. Hy het die belofte van Jesus: “wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” so verdraai, dat hy belowe het: As iemand tydens die kruistog sterf, sal die persoon beslis hemel toe gaan. Dit was die begin van amper 200 jaar se wreedaardige veldtogte, waartydens honderde duisende mense hulle lewens verloor het, konings onttroon en lande vernietig is. Alles “onder die kruis”. Al wat nodig is, is iemand met mag en invloed, wat waansinnighede regverdig deur die woorde van Jesus anders te interpreteer.

Hierdie woorde van Jesus word egter ook op ́n ander manier verkeerd geïnterpreteer, waar dit nou wel nie oorloë veroorsaak nie, maar nogtans tot baie lyding bydra. Ek het al te dikwels die woorde “Dit is die kruis wat ek moet dra” van Christene gehoor, waar dit eintlik nie geldig is nie: ́n vrou wat deur haar man mishandel word, ́n werknemer wat onder ́n onregverdige baas ly, jong mense wat deur ander geboelie word.

Ek onderskat nie die lyding van hierdie mense nie. Maar hierdie woorde van Jesus beteken nie: “Byt maar vas, arme mens” nie. Nee, hierdie woorde het glad nie op hierdie lyding betrekking nie. In teendeel, Jesus roep ons op om sulke mishandeling nie toe te laat nie, maar op te tree vir die wat swaar kry, wanneer ons dit raak sien. Onreg moet by name genoem word, en die wat dit doen moet tereggewys word.

As dit nie Jesus se bedoeling was nie, wat dan? Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?

Markus begin hierdie stukkie met die woorde: Jesus het begin leer. Hy het nie maar net gesels nie. Dit wat nou volg is vir Jesus uiters belangrik en vorm deel van die kern van sy sending: Sy lyding was nie ́n fout of ́n per ongeluk gebeurtenis nie. Nee, Jesus het gekom om die bose te oorwin, en om dit te doen moes hy die bose direk takel. Die bose is sterk - so sterk dat dit Jesus aan die kruis gebring het. Jesus moes daardeur, sodat hy, van die dood se kant af, die bose die doodsteek kon gee!

Met hierdie paar woord verduidelik Jesus dat hierdie geveg teen die bose deel van sy sending is - dit was nie net om ́n paar wonders te verrig en mooi preke te lewer nie.
Maar dan belowe Jesus ook dat hy sal weerkom in heerlikheid - hy sal oorwin!

Nou nooi hy die mense uit om saam met hom te gaan, om hom na te volg. Weer is dit interessant om te lees wat Markus skrywe:
“Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: "As iemand agter My aan wil kom...” Hierdie is ́n ope uitnodiging aan enigiemand (dis die letterlike betekenis van “iemand”). Al fokus Jesus op die twaalf, het hy altyd al die mense in die oog. Enigiemand, ieder en elk, word uitgenooi om Jesus na te volg.

Ook die woord “navolg” is belangrik. Hy bedoel nie dat jy jouself Christen noem, of, soos in die kruistogte, ́n kruis op die vaandel aanbring en dan doen wat jy wil nie - navolg beteken om agter Jesus aan te gaan, om te vra wat hy sou doen, en hoe my optrede sy sending kan weerspieël.

“Soli deo Gloria” of “In God we trust” is nie genoeg as dit maar net ́n leuse sonder inhoud is nie. Nee, dit gaan oor navolg, deel wees van Jesus se sending, en sy doel voor oë te hou.
Jesus draai nie doekies om nie. Net soos hy swaar sou kry, moet die ́ wat hom volg ook bereid wees om te ly vir die evangelie. Die evangelie is die boodskap dat Jesus die bose oorwin. En in ons navolg sal ons ook die weerstand van die bose belewe, ter wille van die evangelie.

Vandag se Epistel lesing is uit 1 Korinthiërs 13. Alhoewel hierdie teks baie gewild is by troues, praat dit nie van romantiese liefde nie, maar van die “Evangelie-liefde”. Anders gestel: Eintlik beskrywe Paulus hier in heeltemal ander woorde wat dit beteken om die kruis terwille van die evangelie op te neem. Liefde gee nie op nie, verloor nie moed nie, verwerp nie iemand as hopeloos nie. Hierdie liefde wil ons mense maak wat Jesus se sending help deurvoer.

In die proses sal ons ook teenkanting belewe - soms lig, ander kere baie hard en ongenaakbaar. As ek sien hoedat iemand ander mishandel en onderdruk beteken hierdie liefde, hierdie navolging om nie weg te kyk nie, maar om te konfronteer, selfs om ́n klag by die polisie in te dien. As ek sien hoedat iemand geboelie word, beteken dit om die boelie duidelik te laat

verstaan dat dit nie reg is nie. As ek rassisme, vooroordeel en rassehaat teenkom beteken dit om my mond oop te maak en die ander kant te stel. Christus navolg beteken om brûe tussen mense te bou.
Hierdie paar voorbeelde is genoeg om ons te laat verstaan dat die kruis om Christus ontwil baie onaangenaam kan wees.

Maar as ons dan die stukke voor en na hierdie teks lees sien ons ook dat Christenwees nie net moeilik is nie. Daar is baie mooi dinge ook. Ons mag belewe hoedat die Here vir ons sorg, soms teen alle verwagtinge in, soos by die groot menigtes wat gevoed word. Ons mag belewe hoedat hy gebede verhoor en seën. Net na hierdie teks lees ons hoedat sommige dissipels die verheerliking van Jesus mag aanskou. Ek dink aan feeste, eredienste wat ek beleef het wat amper net so wonderlik was. Ja, om ́n Christen te wees bring baie mooi dinge saam. Om die kruis op te neem kan ook wonderlik wees. Maar veral mag ek weet dat ek deel is van ́n sending, die sending van Jesus, wat groter is as alles wat nou aan die gebeur is.

Sy uitnodiging kom vandag weer: Enigiemand is uitgenooi om agter hom aan te kom!

Here Jesus, help ons om die moed bymekaar te skraap en om U te volg. Die woeste tye waarin ons ons bevind kan maak dat ons u uit die oog verloor. Help ons om U weer te sien. Dit bid ons vir die Christene oor die hele wêreld: mag ons saam staan, saam bid, saam optree, sodat daar nie ́n wêreldoorlog sal uitbreek nie, dat ongeregtigheid oorwin word en mense oral op aarde U liefde kan ervaar - tot U eer en tot seën van die wêreld.

Amen

Horst Müller, Biskop NELCSA, Diese E-Mail-Adresse ist vor Spambots geschützt! Zur Anzeige muss JavaScript eingeschaltet sein!